You wanna kerriebek?

Tags: 
carry bag
Tags: 
plastieksak
Tags: 
supermark
Tags: 
kasregister



(Kersfees 2005)

"You wanna kerriebek?" vra die lady by die kasregister.

Ek vee selfbewus oor my mond, onseker of gisteraand se kerrie en rys dalk spore gelaat het. Natuurlik het ek geen idee waarvan sy praat nie. Wat ek wel weet is dat ek 'n heel bek verkies bo 'n stukkende bek, maar ek weet nie of ek kans sien vir 'n kerriebek nie. Ek kyk hulpsoekend na Vroutjie wat agter my in die ry staan maar al wat sy bydra is om te vra "Wel, wanna jy 'n kerriebek?"

Kyk, ek is grootgemaak dat jy nie iets in jou huis in bring wat jy nie verstaan nie. Dit is hoekom daar nie vreemde vlieënde voorwerpe, wiskundehandboeke of 'n video van die 2005 Curriebeker eindstryd in my huis is nie. Ek verstaan dit nie, en ek verstaan ook nie wat 'n kerriebek is nie. Daarom sê ek, soos ons in Suid Afrika sê: "No tenks"

By die volgende winkel is dit dieselfde storie. "You wanna kerriebek?" "Huh?" "You wanna kerriebek?" "No tenks" Toe ons by die dertighonderdste winkel met dieselfde storie uitstap, sê ek vir Vroutjie: "Ek kan nou nie meer al die goeters wat ons gekoop het vashou nie.

Ek het ook nie daaraan gedink om vir 'n sakkie te vra nie" "En weet jy wat" sê ek verontwaardig vir Vroutjie, "nou dat ek daaraan dink. Die ladies by die kasregisters vra 'n mens ook nooit meer of jy 'n carrybag wil hê nie!"

En so kom 2005 en ons kersfeesinkope tot 'n einde.

Ek moet tog onthou om in die komende jaar aan die getroue lesers van hierdie rubriek terug te rapporteer oor die skottelgoedwasser. Julle sal onthou dat ek voorheen geskryf het oor dié gedierte wat Vroutjie opsluit moes hê. Nou moet ons die skottelgoed was voordat ons dit was. Ek sê jou, mense met skottelgoedwassers brêg net omdat hulle nog 'n wit ding in die kombuis het. Eintlik werk hulle nou meer en boonop loop hulle die terapie mis wat skottelgoedwas hulle kon gee.

Soos Bill Schoeman, 'n gereelde leser van hierdie rubriek daar in Pretoria (wat nou Tshwane is, maar ook nie Tshwane is nie), laat weet, "Aan al my vriende wat goeie wense gestuur het vir 2005: dit het niks gehelp nie, stuur asseblief hierdie jaar iets meer tasbaar"

Van Haartjie se kant af stuur ek beste wense aan almal waarmee ek die afgelope jare in hierdie rubriek kon draaksteek, en veral aan die vroue van die Vroue Landbou Unie wat so briesend kwaad was omdat ek vir die mense vertel het hulle gebruik manstoilette wanneer hulle kongres hou.

Maar ek dink veral - en hier is ek nou ‘n slag ernstig - ek dink veral aan die vroue in Nelspruit wat laat weet het dit is vir sommige vroue nie amusant as ek grappe maak oor vroue wat op mans se koppe sit nie omdat dit meestal vroue is wat die spit afbyt as mans dronk by die huis kom. Ek dink veral aan daardie vroue.

In die nuwe jaar sal ek moet aandag gee aan die beeld wat ek van Vroutjie geskep het in hierdie rubriek. Haai, sy is glad nie befoeterd, kop-sittend of (onhoudbaar) voorskrywend nie. Sy is eintlik net my beste maat.

Ek sal dit moet regstel, want nou die dag sê iemand vir my sy het ek en Vroutjie in die winkelsentrum gesien stap en sy kon sommer sien ek staan onder die pantoffelregering.

Nou kyk, as jy aan ‘n ou se stap kan sien hy staan onder die pantoffelregering dan verdien jy ‘n prys.

You wanna kerriebek?