Wyse vrae – wyse antwoorde

Tags: 
vrae
Tags: 
antwoorde




Die intelligente lesers van hierdie rubriek – net intelligente mense lees hierdie rubriek – vra wyse vrae wanneer jy hulle in die straat, soms by die kerk en meer dikwels in die polisieselle raakloop. Ons wy dus hierdie rubriek aan ‘n paar knelvrae waarop ons weet die gemeenskap geen antwoorde het nie.

Eerstens vrae wat deur verwagtende ouers gevra word.


Behoort ek ‘n baba te hê na 35? - Nee, 35 babas is genoeg.

Ek is nou twee maande swanger, wanneer sal die baba begin beweeg? - As jy gelukkig is, net nadat hy uit universiteit is.

Wat is die betroubaarste manier om ‘n baba se geslag te bepaal? – Geboorte

My vrou is vyf maande swanger en so humeurig dat dit soms aan die irrasionele grens. Wat kan ek doen? – Moet jou nie teësit nie!

Die instrukteur by my voorgeboorte-klasse sê wat ek tydens geboorte sal voel is drukking, nie pyn nie. Is dit so? – Ja, en ‘n orkaan is ‘n windjie.

Is daar enige rede waarom ek by my vrou moet wees wanneer die baba gebore word? - Nee, behalwe as die woord “egskeiding” vir jou enige betekenis het.

Is daar iets wat ek direk na my kind se geboorte moet vermy? - Ja, swangerskap.

Ons baba is verlede week gebore. Wanneer sal my vrou weer haarself wees? - Sodra die kind universiteit toe gaan.

Vrae wat deur alle lesers gevra word

Waarom is daar ‘n gat in die osoonlaag? – Sodat die aarde sy asem kan uitblaas.

Wanneer is ‘n man middeljarig? - Wanneer sy vrou haar eerste stel flenniepajamas koop.

Gaan die wêreld more tot ‘n einde kom? – Nee, dit is reeds more in Australië.

Wanneer gaan die wêreld tot ‘n einde kom? - Die dag nadat jy die laaste paaiement op jou huis betaal het.

Wat is die doel van ‘n eier? - Dit is ‘n hen se manier om te verseker dat daar nog ‘n hoender sal wees.

Watter tipe mense hou katte aan? – Mense wat ‘n ingebore behoefte het om geignoreer te word.

Wie is Bill Gates? – Hy het ‘n venster uitgevind wat nie kan oopmaak nie.

Wat is “bungee-jumping”? – dit is ‘n sport vir mense wat bang is om te val.

Watter soort mense boks? – Mense wat graag wil bloed skenk maar bang is vir die naald.

Wat is die huwelik? – Dit is wat oorbly nadat selluliet en bier met julle twee klaar is.

Wat is Viagra? – Dit is ‘n land waar die inwoners staan wanneer hulle slaap.