Wanneer is jy oud?
WAAR ek grootgeword het, was die lewe baie eenvoudig. Die meeste van die strate was nie geteer nie, daarom was slaggate nie 'n probleem nie en die polisie het 'n fiets gebruik vir patrollies, daarom was daar nooit 'n tekort aan brandstof nie.
Watter belangrike sake ons aandag geniet het, het van verskeie faktore afgehang. In die lente tot laat somer moes 'n mens besluit waar jy perskes gaan steel. (Dit was toe misdaad nog kattekwaad was). In die herfs en winter moes jy besluit waar jy sal gaan visvang.
Ons groepie pêlle, 'n stuk of vyf, het laat een middag op ons leiklipstoep gelê en bak toe twee begin stry oor wanneer 'n mens oud is. Pietie het eksepsie geneem dat Louis sê sy pa is oud as hy nie eens grys is nie. Louis het voet by stuk gehou dat 'n mens oud is as hy oor vyf-en-dertig is. Ons ander het maar gelê en luister, die warm leiklippe onder ons wange het ons te lui laat voel om 'n oorspronkilike standpunt te formuleer.
Nee, sê Louis, 'jy's oud as jy vyf en dertig is en as jy oor veertig trek is jy regtig met die een voet in die graf, want 'n mens gaan dan op sestig of sewentig sommer vanself dood.' En Pietie hou voet by stuk dat jy eers oud is as jou hare grys word, want sy oupa is nog lank nie dood nie omdat net die helfte van sy hare al grys is.
Kobie sê jy is oud as jy plooie het, maar daarvan verskil ons heftig want teen plooie kan jy cream gebruik. Ons ma's doen dit almal. Oor plooie kan jy lieg as jy cream het, plooie kan dus nie 'n aanduiding van ouderdom wees nie.
Toe sê Attie met 'n lui stem en sy lippe teen die stowwerige leiklip waar hy al 'n spoegplassie laat drup het: 'n mens is oud as jy hare op jou rug het'.
Slaat ons plat met 'n yster koevoet! Dit is die wysste woorde wat ons al gehoor het. Nie een van ons kan dink aan iemand wat jonk is en hare op sy rug het nie. Ons het inteendeel al baie ou ooms met hare op die rug in die swembad gesien. 'Hoe baie hare?' vra Louis. 'Maak nie saak nie, net hare' sê Attie en kyk of hy die plassie op die leiklip groter kan laat word.
Daarby het dit gebly en was die beeld van 'n harige rug in my geestesoog verewig as die definisie van ouderdom.
Tot twee weke gelede toe ek voor die spieël staan en kyk hoe die grys hare sommer so voor my oë meer word en die lagplooie langs my oë al langer. Ek buig vooroor om die tandepasta uit te spoel toe iets my aandag trek.
Oor my regter skouer loer een lang, krullerige, grillerige, swart haar. Hy lag oopbek vir my en hy skreeu met sy hekse-stem
'HIER IS EK BOETIE!!'.
- Login or register to post comments
- 707 reads
- Send to a friend
Comments
Wanneer is jy oud
Dankie, Ansie!
NicP
wanneer is jy oud?
Lekker gelag, daar is by meer tekens as hare op die rug. Die artikel vir al wat leef en beef aangestuur