Waar is die ou dae?

Tags: 
oudae
Tags: 
dinosaurusse




Daar kom ‘n tyd in ‘n mens se lewe dat jy begin praat van “in my dae” of “in die ou dae”.

Dit het natuurlik niks te doen met jou ouderdom nie, dit is bloot die gevolg van die kinders wat so vinnig groot word. Maar selfs ‘n jong man soos ek kom agter dat die lewe darem regtig baie vinnig verander.


Ek bedoel, waar is die dae toe ‘n gay mens iemand was wat sorgvry gelewe het, toe net yskaste cool was en flippen iets met bolmakiesie te doen gehad het?


In my dae kon Moses met twee plat klippe van die berg af stap en al die wette opgeskryf hê – vandag moet hy ‘n Checkers-trollie steel sodat hy die twee-en-twintig plat klippe kan vervoer wat hy nodig het om die boodskap in al elf tale op te skryf.

Onthou jy die dae toe ‘n virus iets was wat mense griep gegee het? Vandag kan jy dit met die pos stuur en maak dit rekenaars siek. Wie onthou die goeie ou dae toe nege miljoen mense in die eerste wêreldoorlog doodgemaak is? Vandag gaan hulle aan natuurlike oorsake soos hongersnood dood.


In die goeie ou dae was die gemiddelde lewensverwagting van ‘n leser van hierdie rubriek 35 jaar vir ‘n man en 40 jaar vir ‘n vrou. Vandag word ons negentig jaar oud. Maar vandag is baie beter want van vyftig af hou die dokters jou met pille, nylon are en longmasjiene aan die gang.


Waar is die goeie ou dae toe petrol 25 sent per gelling gekos het? Toe ‘n kar ‘n gelling ‘n myl gebruik het en jou salaris £7 per maand was, die goeie ou dae toe jy in die nag jou nood moes weg-slááp omdat jy nie kans gesien het om in die donker met jou kaal voete deur die duwweltjies na die buitetoilet onder in die erf te hardloop nie.

Vandag moet jy ‘n hartaanval of ‘n ongeneeslike siekte kry om dood te gaan - in die goeie ou dae het jy sommer van kinkhoes gesterf.


Maar dit hang seker af van watter goeie ou dae jy praat. Is dit die dae tot ons in grotte gebly en ystervarke met klippe doodgeslaan het sodat ons kon eet? Is dit die goeie ou dae toe mense nog nie strykysters en elektriese ketels gehad het nie omdat daar nog nie muurproppe was nie? Is dit die goeie ou dae toe dit jou drie jaar met die ossewa van die Kaap tot in Transvaal geneem het?


Eendag gaan vandag die goeie ou dae wees. Julle gaan vir jul kinders vertel van die goeie ou dae toe rekenaars nog met sleutelborde gewerk het – voor die tyd van aanraak-skerms en stemherkenning. Die goeie ou dae toe die minister elke jaar nuwe bestuurderslisensies uitgevind het waarvoor ons moes betaal.


Julle sal by die kleinkinders spog: “Vandag hou jy net jou duim voor ‘n gaatjie dan weet die masjien wie jy is. In ons tyd mag jy nie vingerafdrukke geneem het sonder die misdadiger se toestemming nie, want vingerafdrukke het mense se privaatheid geskend”.


Jy gaan spog met die goeie ou dae toe ons die toiletpapier self moes afrol en self moes gebruik – lank voor die outomatiese toiletpapier wat alles vir jou doen - en jou kleinkind gaan vra: “Ouma, was dit in die tyd van die dinosourusse?”