Sielkundige skade oor ‘n glipsie

Tags: 
skool
Tags: 
hokkie
Tags: 
kinders
Tags: 
kind




Wie sou nou kon dink dat ek tegelykertyd sou uitvind dat ek nie die grootste pens in die provinsie het nie en die skuld sou kry vir ‘n pa en ma se menopousale buie net omdat ek gesê het ons skool se nederlaag in ‘n hokkiewedstryd was ‘n glipsie?


Elke joernalis weet dat ‘n mens kaalbas op ‘n giftige skerpioenwyfie kan sit en minder skade opdoen as wat jy ‘n ma se kind in die koerant te na kom. Omdat dit buitendien geen doel dien om jongmense se selfbeeld af te breek nie bly jy in elk geval weg van onnodige kritiek op kinders. Maar soms lees ouers kritiek waar dit nie geskryf staan nie.


Ek dink nog dit was ‘n moedswillige leser wat die beriggie aangestuur het waarin ek gesê het ons skool se eerste meisie-hokkiespan se nederlaag teen ‘n buurskool was ‘n glipsie, want ons koerant word nie op die buurdorp versprei nie.


Nadat ons span hul glipsie reggestel en die volgende wedstryd teen die buurskool gewen het, vat ‘n tannie (‘n jong tannie maar ek dink sy sal aandring om ‘n tannie genoem te word want sy neem haarself vreeslik ernstig op) my aan die arm en spin my soos ‘n tol in die rondte dat ek haar vierkantig in die gesig kyk. “Is jy ons joernalis?” vra sy. Gelukkig wag sy nie vir ‘n antwoord nie want ek ken nie die antwoord nie.


Sy trek los en met die strengste uitdrukking wat sy op haar gesig kan kry begin sy my te vertel hoeveel sielkundige skade haar kind gely het omdat ek haar span se welverdiende oorwinning ‘n glipsie genoem het terwyl dit eintlik ons span se groot blaps was. Ek kry nie kans om aan haar te verduidelik dat sy dinge in my berig lees wat nie daar geskryf staan nie.


Op ‘n stadium kom ‘n pa ook by en val sommer in toe die tannie asem skep. Ek probeer na elkeen luister maar hulle neem later sommer sin-oor-sin by mekaar oor en dit lyk toe seker asof ek stry omdat my kop heen en weer draai. Dit maak hulle meer opgewonde en die pa kom staan teenaan my sodat ons amper in dieselfde rigting kyk en hy sê: “Jammer om van jou probleme te hoor maar ..” en hy trek weer volstoom weg.


Ek vra om verskoning dat ek nie kan onthou wat hy gesê het nie, maar toe ek afkyk grond toe om beter te kan hoor, sien ek ons twee se pense hang so langs mekaar, en sy pens is sowaar minstens drie maande swangerder as myne. Net daar neem ‘n uitgelatenheid van my besit en toe ek opkyk sien die mense my grinnik.


Dit laat ‘n jong meisie amper uit haar skerppunt boetsies spring en sy sê met dodelike erns – en ek kan hoor sy het hierdie week swaar geleef – “oom, weet jy dat jou berig gemaak het dat ek ‘n week lank met my pa en ma se verskriklike mood swings moes saamleef?” Haar ouers is seker omtrent dieselfde ouderdom as vroutjie, en ek weet daardie mood swings kom nie van koerantberigte af nie, dit kom saam met hare kleur.


Ek hoor hulle wil die buurdorp se rioolplaas na my vernoem oor ek so baie bollie skryf. Hulle kan my nooi vir die naamgee-seremonie, maar ons gooi mekaar nie met goed nie, hoor!