Restaurantmense haat my
Nou weet ek restaurantmense hou nie van my nie.
Ek weet Maltese poedels hou nie van my nie, want hulle byt my hakskene, en ek weet my skoonma hou nie van my nie, want sy kom kuier nooit. Maar ek sou nooit kon dink die restaurant se mense hou nie van my nie.
Laat in Desember maak ek, vroutjie, die jongman en die jongvrou, by ‘n restaurant in die stad ‘n draai. Daar waar die karwagte gewoonlik so gerook is dat hulle elke keer as hulle jou sien, aanbied om jou kar op te pas – al het jy al drie keer ja gesê.
Die kelnerin sit die bier voor my neer en leun oor my om vroutjie se glas aan te gee. Toe stamp sy my bier dat die bottel rol. Dit is mos Murphy se wet wat sê as die bottel op die tafel omval wys die bek altyd na jou broek se kant toe. Ek sit dus met bier wat skuimerig van die tafel op my zip drup. Sy is gou terug met ‘n lappie en met een veeg vee sy die gestorte bier van die tafel af ... op my broek! Toe moet ek dringend by ‘n badkamer uitkom.
Die badkamer lyk baie dieselfde as ander badkamers behalwe dat daar nie seep of handdoeke is nie. Ten einde raad droog ek maar my broek met toiletpapier af. As die mense gesien het watter kant van my anatomie ek met die toiletpapier afvee sou hulle lekker vir die stupid ou gelag het.
Die kelnerin hol weg en ‘n ander een bedien ons. En ons geniet die aand baie.
Verlede naweek verjaar die jongman en ons gaan na dieselfde restaurant toe, maar na die ander tak in die winkelsentrum wat se naam klink soos Kuba se hoofstad.
Niemand gooi bier oor my uit nie en ons kuier al te lekker. Ons het pas begin weglê aan die kos toe die jongvrou ‘n senuweeagtige gilletjie gee en met haar hande langs haar ore hensop. Meisies doen dit as hulle skrik. Sy wriemel soos een van die wikkeldansers op Rio se straatkarnaval en gil fyntjies op die sewende oktaaf, “daar’s ‘n wurm in my kos!”
Dit is toe ‘n jong, groen wurmpie wat oor die hopie slaai op pad is om die jongman met sy verjaardag te gaan gelukwens. Ek roep sommer ‘n outjie wat lyk of hy belangriker is as ‘n kelner. Hy wil by die jongvrou weet of sy die wurmpie met roasted legs verkies.
Hulle bring ‘n nuwe bord kos wat baie lyk soos die vorige een, maar met ‘n ekstra laag kaas bo-oor. Toe vra die jongvrou hulle moet dit liewers in ‘n hondesakkie sit, sy wil dit net eers by die huis deurkyk voor sy eet.
Ek het nou geleer: as die restaurant-ouens nie van jou hou nie, gooi hulle jou met bier, en as jy aanhou terugkom, voer hulle jou kinders wurms. Maar ek hoor as hulle jou regtig nie weer wil sien nie, plak hulle jou tjek teen die kasregister vas waar almal wat jou nie ken nie dit kan sien.
Ons eet nog uit, maar ons sit in ‘n donker hoekie waar jy nie bewegings in jou kos kan sien nie.
En ek betaal net met note. Net ingeval....
- Login or register to post comments
- 896 reads
- Send to a friend