My pa, hy is 70, boer op 'n stukkie grond op Mpumalanga se hoëveld veld naby Breyten.
Breyten is die dorp waarvan Naas Botha die enigste ereburger is - maar dit is onwaar dat hy die ereburger gemaak is omdat hy die enigste Breytenner is wat nog sy eie tande het.
My pa het eers met skape geboer, maar toe die polisie uitvind daar pas negentien skape agter in 'n vangwa, is my pa se skape so baie gearresteer dat hy besluit het om met beeste te boer om dit vir die polisie makliker te maak. Jy hoef net vyf beeste te vang om 'n vangwa vol te maak.
Maar ek wil eintlik praat oor die opwindende konsep van plaastoerisme. In die week wat 'n boer van Levubu in Limpopo vermoor is, praat 'n ou oor die radio en sê hulle wil plaastoerisme bevorder want op 'n plaas kan jy die "totale vakansie-ervaring hê".
Nou kyk, die boere van Breyten en die boere van Levubu sal regtig 'n lekker ervaring kan aanbied vir die Duitse toeriste, die "ons-is-liewe-Jesus"-Amerikaners en die hoipoloi stadsjapies met hulle vier-by-viers met die modder stickers op die kante.
Kyk net wat bied plaastoerisme die moeë stadsjapie: Jy kan by mense in 'n nabygeleë township of plakkerskamp oornag. Dan kan jy saam met hulle op 'n nagrit gaan om die boere se skape te gaan steel. Dit is 'n eg Suid-Afrikaanse ervaring op graswortel-vlak.
Of jy kan by 'n boer in sy huis oornag. (Plek vir sulke vakansies is egter baie beperk omdat niemand kan voorspel of die boer nog sal leef teen die tyd wat jy opdaag nie).
Maar as die boer nog daar is, kan jy by hom in sy huis bly sodat jy hom kan help om die elektrisiteit van die veiligheidsheining aan te skakel, sy veiligheidshek met die seweklawerslot te sluit, seker te maak dat sy deure en vensters en die veiligheidshek in die gang gesluit is, al sy store met die implemente in te sluit en sy gewere vir die nag uit te haal (die gewere word gebruik om onskuldige voornemende moordenaars te skiet sodat die polisie jou in 'n oorvol sel kan toesluit vir 'n eg Suid-Afrikaanse ervaring).
Dan kan jy onrustig slaap om kort-kort, as die honde blaf, saam met die boer op te staan om te kyk of alles op die plaaswerf nog reg is. En as die honde nie blaf nie is jy steeds wakker om te luister of iemand nie jou familie wil kom aanval nie.
As jy gelukkig is, steek die kaalnaelers vanaand die vee se weiding of die vrugteboorde op die plaas aan die brand. (Dit moet kaalnaelers wees, want die polisie kan hulle nooit vang nie.)
Dan kan jy, die plaastoeris, saam met die boer en sy werkers, die vuur doodslaan! Dink net hoe opwindend dit moet wees om drie meter hoë vlamme in 'n meter-hoë droë gras met nat sakke te probeer doodslaan terwyl die wind die vinniger aanjaag as wat jy kan weghardloop. En jy het gedink bunjy jumping sonder 'n rek is opwindend!
Of jy kan help om die grensdraad reg te maak waar die behoeftige mense vyftig skape deur gejaag het om die ergste honger te gaan stil.
Maar as jy regtig gelukkig is kan jy help om die beeste dood te skiet wat nie kan loop nie omdat hulle hakskeensenings afgekap is. (Dit word gedoen sodat hulle nie onnodig rondloop terwyl die township-slaghuis se werwingsbeamptes met hulle onderhandel nie).
Ja-nee, plaastoerisme is baie opwinderder as om deur 'n leeu gevang te word. Ons behoort dit nie vir oorsese toeriste te los nie, ons moet dit self beproef.
- Login or register to post comments
- 594 reads
- Send to a friend