Die nuttigste woord in afrikaans

Tags: 
afrikaans
Tags: 
nuttige
Tags: 
woord
Tags: 
dinges




Man, dit is seker die nuttigste woord in afrikaans', sê ek nou die aand vir die gesin toe ek my sê wil sê en net nie op die regte woord kan kom nie. Toe gebruik ek my nuttigste woord.


Daar is mense wat sal sê die nuttigste woord is kreatiwiteit, die modewoord van ons tyd, omdat dit is wat almal deesdae wil wees. Jy kan kies uit 'n verskeidenheid: van die kreatiewe tydsgewrig waarin ons leef tot by die kreatiewe gebruik van verf as jy jou huis verf dat dit soos Liquorice Allsorts lyk.


Cool
is die jonges se nuttigste woord. Alles is cool, 'n mens het net nodig om jou stemtoon te verander. As jy take-aways huis-toe bring dink jou kinders jy is cool!!, as die kinders, ten spyte van neul, nie mag uitgaan nie, is dit cool, maar dié een met die hangskouers en beskuldigende stemtoon, die cool van oorgawe. Om die waarheid te sê, jy kan cool gebruik om enigiets te beskryf, behalwe natuurlik om te sê dit is amper koud.


En wat van flippen, die woord wat sommige volwassenes kop laat skud maar eintlik net 'n woord is wat die jonges geskep het sodat hulle krag kan voeg by hulle taal sonder om die regte f-woord te gebruik? Dinge is flippen lekker, flippen moeilik of selfs flippen cool. Ek het selfs nou die dag by die skolerugby gehoor van 'n flippen mooi flippen drie wat die flippen skrumskakel flippen gedruk het! Op sulke flippen kreatiewe taalgebruik kan ek nie flippen verbeter nie al het ek ook hoeveel flippen kennis van flippen rugby!


My nuttigste woord het ek seker maar by my ma geleer want ons kan 'n vreugedevolle gesprek voer met ons nuttigste woord as hulpmiddel. Soos 'hoe gaan dit met dinges (skoondogter) en die kinders?' 'Nee ma, dit gaan goed, en met ma se dingesse (hoenders) en pa se dingesse (skape)?' 'Dit gaan goed met al die diere, dis net dat party van die lammers wat dinges (griep) gekry het en toe het pa hulle dinges (medisyne) gegee en nou is hulle weer springlewendig en dinges (gesond)'.


Ek dink dokters kan my nuttigste woord met vrug gebruik. Dokter aan pasiënt: 'Nee ou maat, jy sal op 'n dinges (dieet) moet gaan. Jy is hopeloos oorgewig, kyk net hoe hang jou dinges (maag) oor jou dinges (gordel). As jy nie iets doen nie gaan jy jou dood dinges (eet)'. Pasiënt:'Maar dokter, ek hou tog so van dinges (eet), ek gaan liewers dood as om op te hou dinges'.


Toe ek dus nou die aand die skottelgoed kombuis toe dra en in 'n koppie lê die stronk van 'n pasgeëte wortel vra ek: nou wat doen hierdie dinges in die dinges? Die wát in die wát?! vra die gesin.

As jy my dus soek, langs die rugbyveld of in die straat, roep my net. Ek is die een wat omkyk as jy vir Dinges roep.


Comments

Ja, jou dinges!

Ja, jou dinges!

Comment viewing options

Select your preferred way to display the comments and click "Save settings" to activate your changes.