Die dag toe ek kwaad geword het

Tags: 
kwaad
Tags: 
tuinslang
Tags: 
bazoeka
Tags: 
taxi



Ek staan nou een Saterdag heel onskuldig, tuinslang in die hand, op die sypaadjie voor my blyplek en spuit die gras nat.

Ek was regtig in ‘n kalm bui. Geen kwade gevoelens teen enigiemand of enigiets nie.

Toe kom daar weer die veraf gedoef-doef van taxi musiek in die hoofpad wat voor my huis verbyloop. En ook nie duisend jaar nie toe kom ta oor die bult met sy onderwêreldse lawaai.
Net daar vererg ek my liederlik. Ek kyk die voortjaende taxi deur skrefiesoë soos John Wayne altyd in die cowboyflieks met die kroeks gemaak het.

Maar omdat ons in die moderne wêreld leef is ek nie aangewese op outydse rewolwers nie. Nee, ek trek my vuurpyllanseerder wat vir sulke geleenthede op my rug lê en wag, oor my skouer, druk dit teen my heup vas en trek los op die duiwelsding. Toe die eerste mortier hom tref sien jy net luidsprekers trek. Maar toe is sy bek stil.

Ek verlustig my nog in my oorwinning oor die taxi toe skree ‘n motorfiets verby. Maar nie die ouens wat Sondae rustig verbyry op hulle brekfisrit nie, nee, dieselfde blikskottel wat drie-uur in die oggend, wanneer hy weet die spietkops nie werk nie, wil kyk hoe vinnig hy kan jaag.

Toe gryp ek die lasergeweer wat ek aan my regterbeen dra en ek blaas hom dat hy in die pad af trek tot agter die bome waar ek hom nie meer kan sien of hoor nie.

En ek is skielik sommer regtig befoeterd.
Die ou wat verder af in die straat met sy onwettige telefone sit en geld maak uit die pendelaars by die taxistopplek dog nog hy het besigheid, toe laat waai ek met die spesiale langloop pistool met die teleskoop.
Later het die arme man nie meer besigheid nie soos ek sy klante afmaai as hulle net aan ‘n telefoon raak.

Terwyl ek toe besig is gee ek dit sommer ook vir die veiligheidwag wat op die winkelsentrum oorkant se dak rondstap asof hy iets daar verloor het. Hy dog nog hy drentel daar rond toe klits ek hom met die bazoeka bo van daardie sinkdak af.

Op dieselfde tyd stop die buurman ‘n paar huise verder af in die straat om sy hek oop te maak. Dis toe wat dit my byval dat hy een van die bokkers is wat gratis elektrisiteit by die stadsraad kry omdat sy pel daar werk. Hulle sluit mos nie die toevoer af nie – dan baljaar die nuwe inwoner op die vorige ou se rekening. Ek wag net tot hy sy rug op my draai om in sy blink kar te klim toe pen ek hom met ‘n dolk tussen die blaaie dat hy sommer in die kar in val. Hy kry dit darem reg om in sy garage in te ry voor hy die huis in stap om te gaan sterf.

Maar net toe ek nou regtig in ‘n verwoestende bui raak en my bazoeka op die vulstasie skuins oorkant rig sodat ek dié ook in sy glorie in kan blaas, loer Seun wat by ons loseer oor die tuinmuur en vra verontwaardig: “Nou vir wat staan pa en spuit so met die tuinslang heen en weer en in die lug?”

Kyk net hoe loop die water al in die pad af. En kyk hoe nat is pa nou al self!”