Daar is pos in die posbus

As jy wil weet wat jou behoeftes in die lewe is, vra die ouens wat gemorspos versprei.  In jou straatposbus, jou poskantoor-posbus en jou elektroniese posbus lê al die antwoorde.  Jy kan eintlik baie leer oor die behoeftes wat jy nie geweet het jy het nie.

Geoordeel aan die inhoud van my straatposbus het ek 'n dringende en onkeerbare behoefte om my liggaam vir 'n uur in 'n kleefplastiek te laat toedraai.  Ek kan by 'n skoonheidsalon die "bridal package" neem:  vir 'n duisend rand word ek vyf maal geëlektrifiseer, my lyf word in plastiek toegedraai, ek ek kan tien keer op die sonbed lê - ongeag die feit dat die son my Saterdag by die viswater in my glorie in gebrand het, my vingernaels en toonnaels word rypgemaak oftewel ge"cure", ek kan 'n "facial of your choice" kry - ek kies die een wat Brad Pitt gebruik - en my skouers word gemasseer, my wenkbroue word vervorm ek ek word professioneel opgemaak vir die troue.

Maar as ek dan nie wil trou nie, is daar ook 'n pamfletjie in my posbus wat my aanmoedig om uit te vind waarom 'n matskoonmaker se kliente aanhou om na hom terug te kom.  Vir al wat ek weet kom sy kliente terug om hom te smeek om sy werk klaar te maak.

Tussen die pamflet met die leeu op die voorblad wat my aanmoedig om vir 'n huis te jag by die eiendomsagent en die haarsalon wat my wil sny en blaas, lë 'n pamflet van 'n slaghuis wat trost is op hulle produkte.  Gelukkig is hulle nie trots op 'n ander slaghuis se produkte nie.  Maar as ek my nie vir die huwelik wil laat voorberei, vir 'n huis wil jag, matte wil laat was of termiete wil laat vergiftig nie, is daar 'n onderneming wat 'n goedkoop rekenaar aan my wil verkoop - al het ek reeds twee, is 'n buurman hoër op in die straat se hondjie gesteel (hopelik nie deur die ou van die slaghuis nie) en kan ek teen 'n spesiale prys skokbrekers vir my bakkie kry - al is poedingbakkies die enigste bakkies in my huis.

Uit die poskantoorposbus kom 'n pamflet wat my vertel die bank verwag dat ek binnekort gaan doodgaan en daarom moet ek dadelik die goedkoop groepsversekering uitneem sodat ek gemoedsrus kan hë.  Asof ek gemoedsrus nodig het as die man met die lansteel-sekel voor my kom staan met die oproepinstruksies.

Op die rekenaar loop ek my vas in die e-posbus se inhoud:  'n spotgoedkoop lening by 'n bank in Engeland, 'n Amerikaanse universiteitsgraad afgelewer binne twee weke en Viagra direk uit indië.

Maar al waarvoor die advertensie en ander gemorspos help, is om die hare op my nek regop te laat staan.  Wat seker nie presies is wat die vervaardiger van die Viagra in gedagte gehad het nie.