Fred Calitz is 'n vrywilliger weerwaarnemer vir Polokwane.
Hy neem deel aan die projekte van die SA Weather and Disaster Information Service 'n groep vrywilliger radio operateurs wat weerpatrone in Suid-Afrika waarneem en aanteken.
Ons het Fred gevra om iets meer oor homself te sê sodat MyPolokwane se lesers kan kennis neem van sy bydrae tot ons gemeenskap.
Hier is sy antwoord:
Hallo Nico,
In antwoord op jou e-pos aan Johan Terblanche van SAWDIS, hiermee so ‘n bietjie meer inligting oor myself:
Ek is ‘n raadgewende ingenieursgeoloog by AGES (Africa geo-Environmental Services) se Polokwane kantoor, en hou my gewoonlik met geologiese ondersoeke vir onder meer behuising, klinieke en skole besig.
Ek is al van 1996 af 'n inwoner van Pietersburg/Polokwane, en woon tans in Silwerkruin (Bendor) saam met my vrou en twee kinders. My stokperdjies is treine en vliegtuie, en ek hou baie daarvan om die prosesse binne God se Skepping te bestudeer – ek hou so nou en dan praatjies vir skoolgroepe. My gunsteling skrywer is Terry Pratchett, en gunsteling kunstenaar Mike Oldfield.
My belangstelling in die plaaslike weergesteldheid het die Donderdagmiddag net voor die haelstorm ‘n piek bereik toe ek ‘n duidelike “wall cloud”-verskynsel (voorganger van ‘n tornado) binne ‘n baie groot donderstorm naby Kranskop by Modimolle (Nylstroom) aanskou het – iets wat ek nog net op die web en TV gesien het!
Later die middag, toe ek al by die huis was, het ‘n donderstorm met hael sonder waarskuwing hier losgebars en groot skade aangerig. Ek het daarna op die Internet na meer inligting en dalk radarbeelde gesoek om dit beter te verstaan, en op jou kommentaar op die SAWDIS webwerf afgekom.
Die leemte was daar, en ek het besef dat ek mos my belangstelling en passie kan gebruik om ‘n verskil te kan maak – derhalwe ‘n paar e-posse later is ek nou die plaaslike weerwaarnemer!
Hopelik is my privaatweerstasie vroeg volgende jaar in aksie, dan kan ek meer akkurate weerinligting verskaf – ook vir plasing op die Internet.
Nou ja, laat weet maar gerus as jy enige vrae of kommentaar het. Ek het intussen by jou MyPolokwane webwerf aangesluit . . . netjies! Doet zo voort.
Groetnis
Fred Calitz Pr.Sci.Nat MDAIEG MIAEG, MGSSA
M.Sc. Soil Science (Northwest University)
Consulting Engineering & Environmental Geologist
Indien jy met Fred wil kontak maak, stuur hom 'n e-pos deur die Ages inskrywing hier op MyPolokwane.com