Ses Snare tree op 13 Augustus om 19:00 by Bolivia Lodge op. Toegang R120 pp. Kaartjies by Leone’s Geskenkwinkel, Game Sentrum.
Deur Alita Vorster
As jy nog nie ʼn vertoning van Ses Snare gesien het nie, is dit nou hoogtyd dat jy dit op jou musikale kalender skryf. Die ses manne wat deel is van hierdie ensemble, is elkeen ʼn gebore musikant wat presies weet wat hy doen.
Daar is Mathys Roets en Thean Kotze, elk met ʼn fluweelstem, daar is Leon Ecroignard wat die baskitaar en kontrabas meesterlik bespeel, en ook sy slag op ander snaarinstrumente wys. Wouter van de Venter is veral bekend vir sy vernuf om liedjies te skryf, maar hy weet beslis ook hoe om die kitaar te tokkel. Mel Botes is die Rocker wat self nie agterbly met sy vingers nie en dan is daar Blackie Swart, wat met hierdie vertonings bewys dat hy werklik ʼn virtuoos op die kitaar is en tot veel meer in staat is as Liewe Lulu. “Blackie gee die pas aan, en ons moet speel om by te hou,” skerts die ander manne in hierdie groep.
Die idee om ʼn akoestiese kitaargroep op die been te bring, is iets wat al lankal by Mathys Roets posgevat het. Hy het saam met Mel Botes ʼn akoestiese vertoning by die Memelfees gelewer, en toe een laat aand het die twee manne oor ʼn goeie glasie whiskey besluit miskien moet hulle nog ʼn paar ander musikante bymekaar kry om saam musiek te maak.
Mathys het die idee van hom een oggend in ʼn koffiewinkel in Centurion vir Thean Kotze genoem en Thean was dadelik reg met die naam: Ses Snare. Nie net verwys hierdie naam na die snaarinstrumente waarop hulle so flink speel nie, maar almal weet tog ʼn snaar is so ʼn lekker loslit verwysing na die manlike spesie. Mathys was dol oor die naam, en toe is daar met die agent Giep van Zyl gepraat, koppe bymekaar gesit en die ander drie kunstenaars is ook by hierdie projek betrek.
Leon Ecroignard
“Ek dink nie die klomp het oorspronklik vir my in gedagte gehad nie,” sê Leon.
“Hulle was van plan om net akoestiese kitare bymekaar te sit, maar gelukkig het Giep vir hulle gesê daar kort ʼn bas instrument en hy het gereken ek is die ideale kandidaat. Aanvanklik dink ek nie die idee was om formele vertonings te hou nie. Ons wou net ʼn lekker Dinsdagaand jam band aanmekaar geslaan het, en toe ek weer sien, toe speel ons in die Centurion teater, ons Alma Mater.”
Leon speel nie net baskitaar en kontrabas vir die Ses Snare nie. Hy speel ook deesdae die ukelele, ʼn instrument waarop hy glo gereeld oefen as hy in die spitsverkeer vassit. Leon is ook nou besig om sy eie CD op te neem, Traffic Jams. Bedags werk hy as klankingenieur wat die klankopnames doen vir verskillende televisieprogramme, maar Leon het al heelwat van sy eie musiek gekomponeer vir kinderprogramme soos Hopla en Lappies Leeu.
“Vir jare lank het mense my net gesien as ʼn musikant wat agtergrondmusiek maak vir ander kunstenaars. Nou sien hulle my darem raak, en geniet my musiek. Ek hoop regtig Ses Snare gaan nog ten minste vir ses jaar saam speel. Na afloop van ons vertonings kom die mense na ons toe met die grootste lof vir elkeen van ons.
Mense is veral opgewonde oor Blackie so ʼn ongelooflike kunstenaar is. Meer en meer mense waardeer hom maar ook die ander ouens wat saam op die verhoog is. Ek kyk nie neer op enige gehoor nie, en ek sal nie sê die volk is dom of oningelig nie. Hulle word net nie genoeg blootgestel aan gehalte musiek nie. Hoe meer kunstenaars gehalte musiek gee om na te luister, hoe meer sal die mense die verskil tussen drek en sjokolade ken!”
Mathys Roets
Vir die res van die snare is Mathys nou die “chairman” en ’n uitstekende rolmodel.
Oor die goedige gekorswel, lag hy net. Dis vir hom besonder lekker dat hierdie aanvanklike idee van hom so uitgekring het. Verlede jaar, toe hy oppad na die KKNK sy motorfietsongeluk gemaak het, het die ander vyf voortgegaan met die vertoning, en bloot Mathys se stoel oopgehou as erkenning van hulle afwesige makker. Daar was groot vreugde toe Mathys, skaars uit die rehabilitasiesentrum, in Julie verlede jaar weer by die ander Snare aangesluit het vir twee vertonings by die Innibosfees.
“Ek het jare gelede saam met Lucas Maree ook so ʼn akoestiese vertoning gehou en toe het die idee beslis begin posvat by my. Ek hou daarvan om met mense saam te werk. Toe ek daar in die koffiewinkel vir Thean van my idee vertel het, het hy dadelik gesê : Ses snare! Almal wat dus dink ons mors tyd as ons in die oggend saam koffie drink moet weet ons drink nie net koffie nie, ons konseptualiseer idees.” sê Mathys tong in die kies.
Mathys se 13e soloalbum, Droomvrouens, is vroeër vanjaar uitgereik, en op die oomblik werk hy hard aan sy outobiografie wat later vanjaar verskyn.
“Ek was natuurlik nog altyd ver agter hierdie vyf manne en hulle moet my die hele tyd kitaarlesse gee sodat ek kan bykom. Dis heerlik om met die klomp saam te werk. Ek hou hulle dop en sien hoe toegewyd elkeen is, en dit inspireer my. As ʼn mens so gedissiplineerd is, sal jy aan die ander kant uitkom. Die eerste keer wat ek weer saam met die klomp gespeel het by Innibos, was baie moeilik. Net die ryery alleen was ongemaklik en seer. Nou is dit niks meer vir my om in die kar te klim en KKNK toe te ry nie. ʼn Mens daag jouself uit, en dan doen jy iets. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker raak dit!”
Mel Botes
“Toe ek en Mathys daardie aand op my plasie in Memel gesels het oor hierdie idee, het ek nooit besef dit sal so groot uitkring nie” sê Mel Botes.
“Dit was van die begin af ʼn spanpoging en elkeen het maar na vore gekom met sy gunsteling musiek. Met sulke goeie musikante is dit eintlik nie snaaks dat elkeen sy deel na die partytjie gebring het nie.”
Mel is natuurlik ʼn groot Rocker wat net nie genoeg van hierdie tipe musiek kan kry nie. Deesdae doen hy gereeld ʼn vertoning waarin hy hulde bring aan die musiek van Pink Floyd, en te oordeel aan die goeie reaksie wat hy hierop kry, weet hy presies hoe om die musiek van dié rockgroep uit die laat sewentigerjare, weer te laat herleef. Mel is ook deesdae aktief betrokke by die platemaatskappy Storm Records Hierdie maatskappy se oogmerk, sê hy, is om middelmatigheid uit die kunste weg te ban.
“Die publiek het nog nooit my musiek kommersieel ervaar nie. Die feit dat ons nou vol sale trek deur van die klassieke rock musiek te speel, is eintlik ʼn hartseer verhaal. In Suid-Afrika is daar baie van ons heel beste rockmusikante wat nie naastenby die erkenning kry wat hulle moet kry nie. Dit lyk tog of dinge stadig maar seker besig is om te verander, en hopelik kan ons ses Snare die mense toenemend blootstel aan goeie musiek.
“Ons oogmerk met Ses Snare is om weer ʼn lekker album en DVD te maak. Die eerste album was ʼn heerlike reis. Hierdie keer gaan ons beslis meer oorspronklike musiek opneem. Wouter is immers een van ons land se heel beste liedjieskrywers. Ons gaan hierdie keer seker maak dat daar veral ʼn radio-vriendelike treffer op die CD is!”
Thean Kotze
“Vir my is dit ʼn groot geleentheid om met Ses Snare kans te kry om tussen die grotes te sit wat elkeen al die pad gestap het,” sê Thean Kotze, die jongste van die ses.
“In die Afrikaanse musiekbedryf is daar baie bubblegum musiek, en ek dink daar is ʼn groot hunkering onder enige kunstenaar om erkenning te ontvang vir iets wat so ʼn bietjie anders as bloot borrelgom is.
“Die ervaring om met hierdie manne, wat elkeen sy instrument uitsonderlik bespeel, musiek te maak, is soos om in ʼn limousine te ry. Maar al is dit ʼn ervaring wat ʼn mens so ʼn bietjie in die kussings laat teruglê, is dit ook ʼn baie ernstige ervaring. Daar is soveel magic daar op die verhoog, en elke keer word dit net lekkerder en lekkerder.”
Thean het natuurlik vir homself naam gemaak in die musiekgroep Limpopo. Maar voor dit was hy ʼn kranige rugbyspeler wat provinsiale rugby vir Wes-Transvaal gespeel het. Thean lag oor die klein dorpie waarvandaan hy kom. As jy dáár nie rugby gespeel het, is jy dadelik as verfynd beskou. Hy het ingenieurswese gaan swot, maar eendag net besef hy is besig om sy droom by hom verby te laat gaan, en van daar af spits hy hom op musiek toe. Thean het ook vroeër vanjaar ʼn eerste solo-album, Thean - Folk, vrygestel.
“Ses Snare het my gedwing om voor groot gehore op te tree, en die mense in die oë te kyk. Vandat ons verlede jaar ons eerste vertoning gehad het, het die belangstelling in ons groep aansienklik gegroei. As jy namaaksels soek, sal jy dit enige plek kry, en ek sluit myself daarby in. Om dinge in die lewe te kry wat regtig waarde het, is nie sommer maklik nie. Dit kos harde werk, maar op die ou end is die beloning daarvoor soveel groter. “
Wouter van de Venter
“Wie het nou ooit kon dink dat die ding so sou ontplof? Tog moet ek sê ons is meer pelle as enigiets anders. Die lekkerste van hierdie werk is die gig, en die partytjie na die tyd. Daarna sien ek die meeste uit,” sê die liedjieskrywer, Wouter van de Venter.
“Dis wonderlik hoe ons elkeen daar op die verhoog sit, en jy weet nie een van die ander ouens het ʼn sekere houding oor homself nie. Blackie speel natuurlik die lewende hel uit ons almal uit, en ons ander moet maar net probeer om by te hou.”
Wouter is self al meer as ’n dekade lank deel van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Deesdae bedryf hy en sy vrou Anita ʼn agentskap vir ander kunstenaars. Wouter is ook elke jaar betrokke by die ATKV se liedjieskryfwerkswinkel. Die hele kwessie van die musikale regte wat aan die kunstenaar behoort, en die manier waarop jy alles moet registreer, is dinge wat hom na aan die hart lê, en wat hy graag aan jong liedjieskrywers leer. In die vorige Ses Snare vertoning was die publiek veral gek na sy eie liedjie, Warm.
“Ek is natuurlik nie die enigste liedjieskrywer van ons groep nie, daar is vyf van ons. Maar elkeen is meester op sy eie gebied. Thean en Mathys het die fluweelstemme, Leon gryp enige instrument met ʼn basfrekwensie. Ses Snare het my eie profiel gelig. Dis lekker om te weet mense neem soveel meer notisie van jou as jy die slag ook op die televisie is.
“Ek dink ons al ses hoop op ʼn lang lewe vir Ses Snare, maar natuurlik is dit maar ʼn ding wat self die pad moet vat. Niemand van ons het meer sterre in ons oë nie, solank dit aangaan, geniet ons elke sekonde daarvan en maak ons gebruik van hierdie lekker geleentheid om musiek te maak!”
Blackie Swart
“Ek en Mathys het mekaar een aand by ʼn gholfdag se prysuitdelingsfunksie raakgeloop en toe het hy my van die idee vertel.
Ek het nie verwag hy gaan die ding so gou aan die gang kry nie, maar die volgende oggend het Mathys my gebel en gevra ek moet twaalfuur daar by sy huis wees. Aanvanklik het ons elkeen opgedaag met ʼn kragboks en ʼn elektriese kitaar, maar ons het gou besef dit is heeltemal te veel moeite om dit elke keer saam te sleep, en van daar af het ons op akoestiese kitare begin werk,” sê Blackie Swart, wat deur die ander vyf Snare as die kitaarkoning beskou word.
“Dit was van die begin af ʼn projek met die oog daarop om pret te hê. Selfs in die moeilike tye het ons mekaar ondersteun en nog steeds probeer om dit te geniet. Elkeen in ons groep is ʼn maklike ou en ons het beslis respek vir mekaar as musikante.”
Blackie is op die oomblik hard aan die werk om musiek te maak waarvan hy regtig hou. Vroeër jare het hy die geleentheid gekry om saam met Afrika kunstenaars soos Brenda Fassie en Hot Stix Mabuse musiek te maak en meer te leer van die Afrika klanke. Blackie se musiek is wêreldmusiek, en waar die musikante uit Afrika nog nie hierdie musiek genoeg na die buiteland gevat het nie, hoop hy om dit wel te doen.
“Ons nuwe vertoning is ʼn lekker vermenging van oud en nuut. Ons het egter besluit ons moet nuwe materiaal ook vir ons gehore gee. Natuurlik word ʼn mens so ʼn bietjie selfsugtig. Jy wil tog net jou heel beste gee. Tog dink ek ons is nou op ʼn punt waar ons die brug gevind het tussen ons vermoëns en begeertes van dit wat ons wil speel, en dit wat die publiek wil hoor!”
Nouja, weet verseker: hierdie ses se musiek gaan jou beslis vir ʼn seshou grens toe slaan!